Besoek aan Jersey Eiland – 21 Februarie 2019

Ontvang internasionale mededingers van die Jersey-eiland

Die Hillandale – rolbalklub het op 21 Februarie 2019 die voorreg gehad om as gasheer op te tree vir 12 rolbalspelers afkomstig vanaf Jersey-eiland.

Jersey-eiland is geleë in die Engelse Kanaal tussen Engeland en Frankryk. Die eiland word beskou as die eiendom van Brittanje, maar kan self wette maak oor plaaslike aangeleenthede. Die eiland reik selfs hul eie banknote uit. 

Die groep rolbalspelers van die eiland toer sedert 1968 die wêreld vol en word die “Friendship Tour” genoem. Hulle besoek en speel by plaaslike rolbalklubs in die lande wat hulle besoek. Een van die lede van die toergroep het al selfs in ‘n paar Rolbal-Wêreldbekerkompetisies gespeel! Verskeie toerlede werk in Frankryk aangesien die eiland slegs 22 kilometer vanaf die Franse kus geleë is.

Alhoewel Hillandale en Jersey gelykop gespeel het met twee wedstryde elk, het die telling nie juis saak gemaak nie. Hierdie filosofie is deur die toerleier, Stuart Weaving, onderskryf toe hy na die wedstryde genoem het dat die doel van die toer eintlik is om nuwe vriende te maak.

Na die wedstryde is daar lekker gekuier, toesprake gehou en geskenke uitgedeel. Al die spelers van Hillandale en Jersey het ook bymekaar ingehaak en hartlik saam “Now is the hour” gesing.

Indien die hoeveelheid vriende wat gemaak is as maatstaf gebruik word, was die toer ‘n reuse sukses. Dit was vir ons baie lekker en ‘n voorreg om die groep hier te kon ontvang.

Outeur: Ewie Cronje

Scroll to Top