Christo het in 2006 begin met die bou van die baan. Die “gulf green” gras is in Augustus 2006 aangeplant aan die oostekant van die baan.
In Desember 2006 het daar op inisiatief van Engela Etsebeth, ‘n vergadering van die Hillandale inwoners plaasgevind en sy is gevra om ‘n konsepgrondwet op te stel en om ‘n stigtingsvergadering te reël.
Die stigtingsvergadering is gereël vir einde Januarie 2007 waartydens die grondwet aanvaar is en ‘n komitee verkies is. Engela Etsebeth was die eerste voorsitter van die klub. Ewie Cronje was verkies as vise voorsitter. Ander lede van die eerste komitee was Marizaan Grunow, Ernst Grunow en Izak de Villiers.
Twaalf mense is gevra om elkeen R1000 te skenk om sodoende die klub van die grond af te kry. Hulle is die stigterslede genoem.
Roes van Achterbergh (een van die ontwikkelaars) en dryfveer agter die bou van die baan is as eerste erelid aangewys. Hy was self ‘n rolbalspeler van die Morningside klub in Johannesburg.
Aanvanklik het ‘n persoon van die regspersoon van Hillandale die rolbalklub se vergaderings bygewoon, maar later is hierdie gebruik gestaak. Hierdie gebruik is weer laat in 2019 hervat.
Die ontwikkelaars het saam met die baan en klubhuis ook die nodige masjinerie aan Hillandale geskenk, maar die rolbalklub moes self die onkoste van die instandhouding dra. Abel Lesole is toe deur Hillandale oorgeneem by die bouer van die baan. Hy was die eerste perkemeester.
Gedurende Oktober 2007 het Dippie en Marietjie Dippenaar hul intrek by Hillandale geneem. Hulle het ‘n belangrike rol vertolk by die klub, nie net as spelers nie, maar veral ook as administrateurs.
Outeur: Ewie Cronje