Mans En Dames Enkelspelfinaal – 18 September 2020

By enige rolbalklub is die dames- en mansenkelspeltoernooi een van die hoogtepunte op die jaar se sportkalender.  Dit is elke speler se droom om in die finaal te speel. 
So het die groot dag toe aangebreek vir Elma Pretorius en Kleintjie Knoetze, asook vir Jannie du Plessis en Francois van Vuuren.
45 ondersteunende, “gemaskerde” en gesanitiseerde lede het die finaal kom kyk.  Die kostafel het allerhande heerlike vingereetgoedjies op gehad.  Die lied van Brendan Peyper “Klim jou Everest” het gespeel toe die vier finaliste op die baan geloop het. 

Dit was ‘n rillerstryd tussen die twee mans  en die eindtelling van 21/20 was in Francois se guns.  Die dames se stryd was geensins makliker nie en was die eindtelling van 21/18 in Elma Pretorius se guns.  Die twee wenners het hul onderskeie trofeë ontvang en die naaswenners het darem nie met leë hande huis toe gegaan nie.  Jannie het ‘n goeie bottel rooiwyn ontvang en Kleintjie het ‘n pragtige bos blomme gekry.

Nadat die mans– en damesenkelspelkampioenskap afgehandel is, het almal aan ‘n heerlike worsbroodjie – die wors is op die vuur gebraai en het die wonderlike geur almal se smaakorgane aan die werk gesit – gesmul.

En toe was dit die hoogtepunt van ‘n heerlike middag van samesyn en rondbal kyk…. Die dameswenner het teen die manswenner gespeel om die Groot Kampioen te bepaal.  Ons is weereens getrakteer op ongelooflike rolbal en was dit net ‘n plesier om die twee kampioene in aksie te sien.  Op ‘n stadium was die telling op die 14e kop 14 elk….  14 – 14 – 14.  Uiteindelik na ‘n naelbytstryd het Francois as die wenner uit die stryd getree.

San-Marie het die trofee wat deur haar man, wyle Ewie Cronje, geskenk is aan Francois oorhandig.  Hierdie Groot Kampioen wedstryd was immers Ewie se skitterende idee.

Ons sien beslis uit na volgende jaar se toernooi wat weereens rolbal van ‘n hoogstaande gehalte sal oplewer.

Outeur:  Maureen Annandale

Scroll to Top