Werk Aan Die Baan – Oktober 2021

Die baan is vroeg in Oktober 2021 toegemaak vir die jaarlikse werk wat daaraan gedoen moet word. Eers is dit “gescarrify”, daarna ge-“hollotine” (gaatjies gemaak) en later is alles weer opgevee. Van die grassnysels vul dan die gaatjies wat deur die “hollotine” masjien gelaat is.

​Later is daar nuwe gras geplant op die kaal kolle op die baan. Daarna is die baan gelyk gemaak, gerol, kunsmis gestrooi en die baan behoorlik natgemaak.

​Ons bedank graag vir Hertzog Meiring vir sy kundigheid, masjinerie wat beskikbaar gestel is en sy fisiese bydrae met bogemelde projek.

​Ons wou aanvanklik net sekere van die sykante (“ditchborde”) om die baan herstel, maar toe daar eers met die taak begin is, is daar gesien dat die meeste van die ou “ditchborde” reeds vrot was en daar is toe besluit om eerder al die ou “ditchborde” met nuwes te vervang. Dit was ‘n reusetaak wat ‘n ekstra vier dae en baie sweet geneem het om te voltooi. Daar moes ook heelwat opvulwerk gedoen word, veral op baan 7 in die Noord/Suid rigting,  om die baan weer gelyk te kry.

​Ons moet die volgende lede uitsonder vir hul harde werk aan hierdie projek, naamlik Michael Coomans, Bennie Oosthuysen, Pierre Hugo en Pieter Theron. Dit is ‘n enorme taak wat julle met goeie beplanning aangepak het en suksesvol voltooi het.  Spesiale dank aan Pierre Hugo wat van sy plaasarbeiders met hul kundigheid tot die beskikking van die klub gestel het. Dit het ook gepaard gegaan met baie kostes wat uit Pierre se sak gekom het. Pierre – ons bedank jou vir jou goedhartigheid en finansiële bydrae in die verband. Dit word opreg waardeer.

​As gevolg van al hierdie addisionele werk wat aan die baan gedoen moes word sal die baan nou langer toe bly sodat die gras volkome kan herstel. Ons hoop vir lekker reën wat uiteraard die herstelproses sal bespoedig.

​Laastens wil ons ook vir Marietjie en Dippie Dippenaar en Sarie Reynolds bedank vir hul ondersteuning. Hulle het by meer as een geleentheid die lede wat gewerk het, sowel as die arbeiders bederf met kos, kolwyntjies en koeldrank. Die lafenis was baie welkom. Dankie dat julle aan ons manne wat so hard gewerk het gedink het.

​Outeur: Jannie du Plessis 

Scroll to Top