Superseniordag (80 Jaar En Ouer) – 25 Mei 2022

‘n Superseniordag is vir die eerste keer aangebied.  Rolbalspelers ouer as 80 jaar en van die verskillende Bloemfontein rolbalklubs het by die Hillandale Rolbalklub bymekaar gekom om rolbal te  speel en baie bederf te word. 

Die skieps is vooraf bepaal.  Elke skiep het dan ‘n span getrek.  Hierdie spanne het toe een wedstryd, 12 koppe lank,  gespeel.  Iemand wat na die spel gekyk het, het die volgende opmerking gemaak:  “As dit is hoe 80-jariges speel, het ek nog 10 jaar om te oefen!” 

​Na afloop van die spel het die spelers drankies geniet en toe kon hulle aansit by keurig gedekte tafels.  Elkeen van hulle is verras met ‘n “Bruis”-tydskrif by sy/haar sitplek.  

​Louise Viviers het ‘n sangitem gelewer en ‘n groepie dames het ‘n dansitem gelewer, terwyl die “Rolbal Super Seniors” ‘n uit-die-boeke sopvoorgereg, ‘n geurig en keurig bereide hoofgereg en ‘n heerlike nagerig geniet het.  Jan Le Roux Pieterse het ‘n kort toespraak gelewer aangesien die idee van so ‘n pret- en bederfdag aanvanklik syne was.

​Elke speler het dan ook na die tyd ‘n baie spesiale handgemaakte geskenk, deur Marda Oosthuyzen en Beatrice Hugo, ontvang om hulle te herinner aan hierdie baie spesiale en unieke dag in hul lewens.

Scroll to Top